WYS my nog ‘n brood wat sy eie vastrapwals het. Die legendariese David de Lange en die Welgensorkes se Roosterkoekseties van die 1930’s vat ‘n mens ver die verlede in. Roosterkoek doen dit aan jou.

Jy wil by ‘n nefie vir Ek soek na my Dina inhaak of die askoekriel skoffel, jy wil proteas in die voorhuis rangskik, biltong kerf en jou eie botter karring. Om jou tande in roosterkoek in te slaan is om aan ons kultuur te hap.

Maar roosterkoek is nie net ‘n Afrikaanse ding nie en roosterkoek maak is nie net tannies van die Richtersveld, Kamieskroon en die Klein-Karoo beskore nie. Dis ons almal s’n. So skop ‘n Engelsman nou die dag stof in my oe in ‘n roosterkoekkompetisie wat op die Nitida-wynlandgoed naby Durbanville gehou is.

Sien, ek is die “Huiskok” van die RSG-radiopraatjie Huiskok Glanskok en 13 jaar al kook ek en my Glanskok-pel, die sjef Francois Ferreira, saam op die lug. “Daar waar jy gaan, sal ek gaan.”

ERRIEDA DU TOIT

Huiskok se roosterkoek

Jy het nodig:

1 pakkie kitsgis
250 g Eureka-koekmeel
250 g Eureka-broodmeel
1 eier
25 g sagte botter
2 eetlepels suiker
7,5 ml sout
Genoeg water om ‘n sagte deeg te kan maak

So maak mens:
1. Plaas die meel en die gis in ‘n bak. Meng met jou vingers en voeg die suiker en sout by. (Moet nooit die gis direk met die suiker en sout in aanraking laat kom nie; meng die gis eers met die meel.)
2. Vryf die sagte botter en die meelmengsel saam en voeg die eier en louwarm water by om ‘n sagte deeg te vorm.
3. Knie die deeg ongeveer 10 min. tot glad, blink en elasties.
4. Plaas die deeg in ‘n skoon kom en bedek met ‘n vadoek. Laat dit in ‘n warm plek rys totdat dit dubbel die grootte is (ongeveer 40 minute lank).
5. Knie die deeg af, druk dit plat en sny in vierkante.
6. Bestryk dit liggies met meel sodat dit nie aan die rooster vassit nie.
7. Rooster dit oor kole van matige hitte. Dit is reg wanneer dit hol klink as jy daarop klop.

Doopsous met ‘n byt

VERANDER die tradisie en sit jou roosterkoek voor met ‘n ongewone, maar heerlike doopsous wat oor die kole gaargemaak word, terwyl die deeg rys.
SO maak jy:
1. Soteer ‘n fyngekapte rooi soetrissie, ‘n ui, twee gekneusde knoffelhuisies en ‘n opgekapte brandrissie (pitte verwyder) in ‘n ysterpan met ‘n bietjie olie oor warm kole.
2. Voeg 250 ml wynmos by en verhit tot kookpunt. (As jy nie wynmos in die hande kan kry nie, vervang dit met wit wyn of witwynasyn. Bruinsuiker kan na smaak bygevoeg word.)
3. Laat dit afkoel en geur met sout en peper.